agrifin@workflownamibia.com

10 Mei 2007 

Die eerste oorplaatjies met die 2D matrix Elektroniese Identifiseringskode daarop word vandag af versprei

 

 

17 Mei 2007 - REPUBLIKEIN

Ouditeure kyk van nuuts af na omstrede skaapskema

• Ronelle Rademeyer

TWEE reddingsboeie is gister uitgegooi vir skaapprodusente wat hulle die afgelope maande weens die streng uitvoerbeleid en slagkrisis in onstuimige vaarwaters bevind.
Die span konsultante wat die Vleisraad van Namibië ná maandelange gesloer aangewys het om oor die volgende sowat twee maande 'n omvattende studie na die omstrede kleinveebemarkingskema te doen, het gister met sy werksaamhede begin.
Tweedens het ’n nuwe administreringsbedeling ná 'n aankondiging in die Staatskoerant in werking getree waardeur die Vleisraad in beheer gestel is van die kleinveebemarkingskema. Die raad kan dit bestuur soos hy goeddink en die uitvoere van skape administreer.
Mnr. Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad, het bevestig dat die ouditeursfirma PricewaterhouseCoopers in samewerking met prof. Kobus Laubscher, 'n landbou-ekonoom aan die Universiteit van die Vrystaat, Maandag aangestel is om die langverwagte studie te doen.
Ingevolge 'n Kabinetsbesluit verlede week het die Vleisraad van gister die mandaat om die uitvoer van kleinvee na ander markte op 'n meer buigsame wyse te administreer.
Dit mag egter nie ten koste van die deurset by plaaslike abattoirs geskied nie.
Namibië is die vasteland se grootste uitvoerder van skape na ander lande in Afrika.
Die besluit om die Vleisraad volle bestuursreg oor die bemarkingskema vir kleinvee te gee, is geneem nadat dr. Nickey Iyambo, Minister van Landbou, Water en Bosbou, die Kabinet verlede week oor die erns van die huidige slagkrisis in die land toegespreek het.
Skaapprodusente word deur die swak weidingstoestande in die Suide gedwing om so vinnig as moontlik sowat 240 000 skape van die veld te haal.
Dié skape kan nie almal by die plaaslike abattoirs geakkommodeer word nie. Abattoirs is so vol dat baie produsente eers oor ses weke weer slagbeurte kan kry.
Mnr. Sakkie Coetzee, uitvoerende bestuurder van die Namibiese Landbou-unie (NLU), het verlede week in die unie se weeklikse nuusbrief aan lede sy kommer uitgespreek oor die feit dat die aanstelling van die konsultante so lank sloer.
Die NLU het in Februarie vanjaar versoek dat ‘n omvattende studie na die uitwerking van die kleinveebemarkingskema so vinnig as moontlik gedoen word. Die doel is om in die langtermyn oplossings te vind vir die probleme waartoe die skema aanleiding gegee het.
Dié skema het op 1 Julie 2004 in werking getree. Tot voor die onlangse ingryping deur die Kabinet was die uitvoerverhouding van skape op die hoef na ander markte 6:1. Dit beteken vir elke een skaap wat 'n produsent lewendig die land uitneem, moet hy ses plaaslik laat slag.
Die verhouding is egter vroeër vanjaar tydelik na 3:1 verslap in 'n poging om diere wat markgereed is vinniger van die veld te kry.
Dié ingryping, asook die een verlede week toe die Kabinet besluit het om die Vleisraad in beheer van die skema te stel, is egter net tydelike noodmaatreëls.
Die NLU hoop dat die konsultante se studie sal aandui hoe die skema aangepas moet word om dit in die langtermyn te laat werk.
Mnr. Strydom sê behalwe dat die studie riglyne moet gee, moet dit ook die werklike feite en statistieke uitwys rondom die verliese wat produsente aanvoer hulle sedert die inwerkingtreding gely het.
Voorlopige berekenings deur die Aksiekomitee van Skaapprodusente van Namibië (ASN) toon dat boere weens dié skema gemiddeld N$100 per kop verloor en dat dit die nasionale ekonomie per jaar N$85 miljoen kos.

 

WORKFLOWLOGO      Contact:  Derick Strauss  @ Cell: 264 - 81 279 5853